“Ek vermaan julle dan … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Ef. 4:1-6).
Die eenheid van die kerk van Christus word op verskeie treffende maniere uitgebeeld in Sy Woord. Selfs al sou ons die skrifgedeelte in Efesiërs 4 ignoreer, is daar steeds etlike ander gedeeltes wat die idee van eenheid behandel.
Daar word verskillende illustrasies in die Woord gebruik wat die begrip van samehorigheid en eenheid onder gelowiges uitbeeld, sonder om die woord “eenheid” te noem:
‘n Koning met Sy Koninkryk
Tydens Sy laaste intog in Jerusalem is Christus spontaan deur die inwoners gehuldig as Koning. Hy het hierdie benaming Hom nie alleen laat welgeval nie, maar selfs bygevoeg dat, indien hulle swyg, die klippe sou uitroep, (Lukas 19:38-40).
In 1 Timotheus 6:15 praat Paulus van Christus as die Koning van die Konings. Die koninkryk moes dus reeds bestaan het in die Nuwe Testament. Hierdie afleiding word gestaaf in Kolossense 1:13.
Die woord “koninkryk” kom meer as honderd keer in die Nuwe Testament voor! Die eenheid van hierdie koninkryk, waarvan Christus die koning is, is reeds onherkenbaar versteur. Dit is helaas duidelik dat Christus nie meer as alleen-heerser in Sy koninkryk beskou word nie!
‘n Herder met sy kudde
Ons hoef slegs Johannes 10:1-21 te lees om ‘n blik te kry op die idee wat Jesus aangaande Sy volgelinge gehad het: Een Herder, met een kudde waar elke enkeling deur die Herder op sy naam genoem word. Elke lid van die een kudde is ‘n lid omdat hy die eiendom van die Herder is, die stem van die Herder herken, Hom gehoorsaam sonder teëspraak, en nie luister na die stem van vreemdelinge nie.
As ons die hedendaagse verdeeldheid in Christus se kudde betrag, kan ons nie anders as om te wonder nie: Praat ons Herder vandag uit ‘n magdom van monde — of is hedendaagse gelowiges besig om te luister na ‘n magdom van vreemdelinge? [Lees asb. 2 Tim 4:3-4].
‘n Priesterdom
Christus word op verskeie plekke voorgestel as ons Hoëpriester die Middelaar van ‘n Nuwe Testament, (Heb. 4:14-16; 9:15). Petrus noem gelowiges ‘n koninklike priesterdom, (1 Pet. 2:9).
In die Ou Verbond moes die Hoëpriester onder andere die versoening bewerkstellig op die Joodse Versoendag. God het van die res van die priesters verwag om eerstens die ander offers wat in Sy verbond voorgeskryf was aan Hom te bring en ook die ander tempeldiens volgens Sy voorskrifte te verrig, (Lev. 10:1-2).
Ons Hoëpriester is Christus en Sy voorskrif is die Nuwe Testament. Ook Hy gaan nie tevrede wees met afwykings en ongehoorsaamheid aan Sy voorskrifte nie, (2 Thess. 1:7-9; Gal. 1:6-9).
‘n Familie
Van die begin van die skepping af, is die familie as ‘n hegte eenheid beskou. Die huis-baas (gewoonlik die oudste vader in die familie en/of die eienaar van die slawe) is as die “Aartsvader” (of patriarg) beskou. Hy was in beheer van die hele familie.
In die Nuwe Testament word hierdie idee voortgesit. Christus het telkens na God verwys as Sy Vader en leer ons om te bid: “Onse Vader wat in die Hemele is” (Mat. 6:9-13).
Die Bybel gaan verder en noem diegene wat in Christus is, kinders van God, (Rom. 8:14-17), seuns en dogters, [2 Kor 6:18], of huisgenote, (Sien Gal. 6:10; Ef. 2:19).
Paulus verwag van die kinders van God om ons Vader “eendragtiglik uit een mond … (te) verheerlik” (Rom. 15:6).
‘n Wingerdstok met lote
Onder normale omstandighede dra ‘n druiweloot sonder uitsondering die vrugte van die wingerdstok waaraan hy groei. Indien dit nie gebeur nie, word die tak afgekap en verbrand (Joh. 15:6).
In Romeine 11:17-24 gebruik Paulus die beeld van ‘n olyfboom (Israel) waarvan sommige takke afgekap is en die takke van ‘n wilde olyf (Heidene) teen die natuur in (V. 24) op die mak olyfboom ingeënt is, en deel geword het van die wortel en die vettigheid van die boom.
Hierdie twee illustrasies verwys op ‘n byna grafiese wyse na die sienswyse wat God aangaande sy kinders het. Hy verwag van Sy kinders eenheid in geloof (beide in teorie en praktyk) ongeag ons verskille op ander gebiede!
‘n Hoof en ‘n gesonde Liggaam
In die geval waar die Gemeente voorgestel word as ‘n liggaam (Ef. 2:22-23), val die klem op ‘n ander aspek van Christelikheid. In hierdie illustrasie gaan dit meer oor die samehorigheids-gevoel, eerder as die reëls vir eenheid wat in Gods woord beklemtoon word.
Die eenheid van ‘n liggaam word nie bepaal deur reëls nie. In ‘n gesonde liggaam kan daar nie enigiets anders as eenheid bestaan nie!
Enige ledemaat wat deur ‘n ander hoof beheer word, behoort nie meer aan die liggaam nie!
Enige ledemaat wat wel tot ‘n gesonde liggaam behoort, werk vanselfsprekend ten nouste saam met elke ander ledemaat van die liggaam!
Stel uself die chaos voor van ‘n liggaam met twee koppe. Stel u die verwarring voor indien u liggaam die teenoorgestelde begin doen as dit wat deur u hoof beveel word!
Tog word soortgelyke toestande vandag gereeld in kerke gevind. In Christus se liggaam, wat veronderstel is om aanmekaar gehou te word deur die ondersteuning wat die senings bied (Kol. 2:19), vind ons letterlik duisende verbrokkelings.
Leser, u weet dat hierdie dinge waar is. U weet dat daar ‘n hartverskeurende verdeeldheid in die Christendom heers. Diegene wat aanspraak maak om in Christus te glo, sit nie langs dieselfde vuur nie!
Wat kan die gewone lidmaat in die bank hieraan doen?
Ware gelowiges kan die houding inneem van die gemeente in die Nuwe Testament. Hulle kan begin om eendragtig met ander gelowiges te verenig en God so in waarheid te dien. (Lees Hand. 2:36-47).
Voorts sal elkeen van ons persoonlik moet begin bepaal wat die Bybel leer aangaande eenheid – leiers en lidmate! “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12).
Dit is nie langer genoeg dat die gewone lidmaat hom verlaat op wat die leierskap sê nie—die leierskappe van verskillende groepe sit nie langs dieselfde vuur nie. Leierskappe bevorder dus die verdeeldheid in die Christendom.
Die Bybel sal dus weereens die middelpunt van elkeen se Bybelkennis moet word, ongeag (of ten spyte van) wat vergaderings of konferensies en so meer, besluit. Sonder ‘n breedvoerige kennis oor die Bybel gaan mense nie kan saamstem oor wat God van ons verwag nie!
Mag die Here aan elkeen wat werklik dit in sy hart opreg met Hom bedoel, die voorreg gee om kontak te maak met elke ander opregte gelowige. Mag die Here gee dat opregte gelowiges mekaar sal herken en opnuut sal poog om die ware “Een Liggaam”, die “huisgesin” van die Bybel in herlewing te bring.
Dit was Christus se gebed vir sy volgelinge. Dit behoort die roeping van elke ware gelowige te word.
-Malan Gerber