EEN HOOP

“Ek vermaan julle dan … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Ef. 4:1-6).

Die woord “hoop” word op twee maniere gebruik in ons alledaagse gesprekke. Soms gebruik ons hierdie woord in dieselfde sin as die woord “wens”. (“Ek hoop ons span wen vandag teen die sterk opposisie.”) Andersins word die woord gebruik in die sin van “verwagting”. (“Ek hoop om ‘n goeie verhoging te kry hierdie jaar, aangesien ons winste goed was.”)

Een van die woorde wat vir “Hoop” in die Ou Testament gebruik word, het die idee van “‘n geduldige verwagting”. Tog is hierdie “hoop” nie direk aan die wet verbind nie. Jesus het selfs gesê dat Israel iemand het wat hulle beskuldig: “Moses op wie julle gehoop het”, (Joh. 5:45).

Abraham en andere word deur God’s woord as vreemdelinge en bywoners beskryf, (Heb. 11). Veral Abraham het ‘n swerwersbestaan in tente gevoer nadat Hy Ur verlaat het om na Kanaän te trek. Die enigste grond wat hy in Kanaän besit het, was blykbaar die grot waarin Sara begrawe is, (Gen. 23). Die Bybel sê van Abraham dat hy (gehoop) uitgesien het na ‘n stad met fondamente waarvan God die boumeester was, (Heb. 11:10).

Eintlik is elkeen van ons maar op dieselfde wyse ‘n “bywoner” op aarde. Ons word dalk eienaars van grond of eiendom, maar wanneer ons eendag sterwe, sal ons niks van ons besittings kan saamneem nie.

Jim Reeves het dit in een van sy liedere so uitgedruk: “This world is not my home, I’m just a-passin’ through.” Nie een van ons het ‘n vaste woonplek hier op aarde nie.

Verskillende beskouings oor die nadoodse lewe.

Net soos met ander onderwerpe die geval is, bestaan daar groot verskille onder gelowiges omtrent die lewe na die dood.

Sommige glo dat daar van boete-doening na die dood bestaan. Daar sal ons in pyniging boet vir ons sondes. Verlossing uit hierdie plek van marteling word bekom deur (ondermeer) die gebede van ons vriende en familie op aarde.

Die Bybel leer wel dat daar ‘n plek van pyniging bestaan, maar dat daar geen manier is om na “die ander kant” te ontsnap nie, (Luk. 16:26).

Andere glo dat ons in die graf in ‘n soort “sieleslaap” sal voortbestaan totdat Jesus kom om ons op te wek. Die “ryk man” in Lukas 16 was egter deeglik bewus wat om hom aan die gang was.

Verder is daar ‘n beskouing dat sommige van ons na die koms van Jesus hier op aarde sal bly voortbestaan. Diegene wat Christus dan as Koning aanvaar sal op ‘n herskape aarde voortlewe vir ewig. Die “uitverkorenes” sal saam met Hom in die Hemel verkeer.

Die probleem met hierdie beskouing is natuurlik dat dit twee “hope” (verwagtinge) voorstaan: sommige het die “hoop” om op aarde te bly lewe en andere het die “hoop” om in die Hemel te wees vir ewig. In die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (Mat. 20:1-16) gee Jesus ‘n duidelike aanduiding dat daar slegs één vergoeding is vir almal wat in die wingerd van God werk. Petrus sê dat God nie ‘n aannemer van die persoon is nie (Hand. 10:34), wat die idee van partydigheid dadelik uitsluit. Paulus meld uitdruklik “… één hoop” aan die Efesiërs.

Die Bybel leer verder dat “… die hoop … vir julle weggelê is in die hemele” (Kol. 1:5). Die ewige hoop van die Christen is gesétel in die hemel en nie op aarde nie.

Die Algemene Opstanding

Jesus het belowe dat ons liggame nie vir ewig in die graf sal bly nie, (Joh. 5:28-29). Opstanding uit die dood is beskore vir almal wat sterf – hetsy gelowiges of ongelowiges. “Almal wat in die grafte is (sal) sy stem … hoor en uitgaan …” Elkeen het die hoop op ‘n opstanding uit die dode.

Hy het verder verduidelik dat daar ‘n enkele skeiding sal plaasvind ná die opstanding; die “skape” en die “bokke” sal van mekaar geskei word, (Mat. 25). Die “skape” sal ewig saam met Hom wees, maar die “bokke” sal vir ewig van Hom geskei word.

Die Bybel leer dus duidelik die idee van ‘n algemene opstanding – ‘n unieke leerstelling wat nie in heidense godsdienste gevind word nie. Tog is die opstanding uit die dode klaarblyklik nie die “… een hoop” waarvan Paulus melding maak nie. Daar bestaan ‘n ander hoop – bo en behalwe die verwagting van ‘n opstanding uit die dode – vir die getroue volgeling van Christus.

Wat is die “… een hoop” van Efesiërs 4:4?

Die Nuwe Testament gebruik die woord “hoop” in ‘n mate as die teenoorgestelde van “vrees”.

Aan die een kant word daar vir ons ‘n definitiewe “hoop” voorgehou, terwyl daar ook ‘n toestand van “sonder hoop” of “geen hoop” bestaan, (Ef. 2:12, 1 Thes. 4:13). Hierdie toestand van “hopeloosheid” bestaan in ‘n ewige verderf of verwydering weg van die aangesig van God, (2 Thes. 1:9).

Diegene wat wel ‘n positiewe verwagting in die toekoms het, het ‘n hoop op saligheid (1 Thes. 5:8) of die hoop op geregtigheid, (Gal. 5:5). Hierdie positiewe verwagting of die hoop van die Christen (waarin hy gered word, Rom. 8:24) word ook gekoppel aan “die ewige lewe”, (Tit. 1:2). Hierdie hoop, wat ‘n integrale deel vorm van ons verhouding met Christus, is ‘n hoop van heerlikheid, (Kol. 1:27). Die heerlikheid wat God berei vir die wat Hom liefhet, is van so ‘n ongekende aard dat dit blykbaar nie eers in die gedagte van die mens opgekom het nie, (1 Kor. 2:9).

Die hoop van die Christen om God se ewige heerlikheid met Hom te deel, is deel van die genade van God, (Rom. 5:2). Dit is nie iets wat ons deur ons eie meriete kan verdien nie. Dit vorm deel van die saligmaking of verlossing wat in Christus bestaan, (2 Tim. 2:10), en is ‘n inherente deel van die boodskap van die evangelie, (Kol. 1:5).

Opsomming:

Die Bybel leer dat God alle nasies uit een bloed gemaak het, (Hand. 17:26). God het self die asem van die lewe in die neus van die mens geblaas, (Gen. 2:7) en ‘n tuin [één tuin!] geskep waar Hy met die mens in harmonie kon saamleef. Deur ongehoorsaamheid het die mens daardie harmonie verbreek en toegang tot die tuin verloor.

Daar bestaan steeds “… een hoop” vir die mens om daardie harmonie met God te herstel en vir ewig in die heerlikheid van Sy teenwoordigheid te lewe – nie in Eden nie, maar in die Hemel, (1 Thes. 4:16-17).

Christus het deur die uitstorting van Sy bloed, die deur geword tot daardie ewige hoop. Die sleutel om daardie deur te ontsluit, is gehoorsaamheid aan die verwagtinge van Sy evangelie, (Heb. 5:8-9).

Leser, moenie hierdie lewe laat verbygaan sonder die versekering van ‘n beter lewe in die Hiernamaals nie.

Gehoorsaam vandag nog die woorde van Petrus in Handelinge 2:40: “Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag”.

-Malan Gerber

Leave a Reply

%d bloggers like this: