EEN HERE

“Ek vermaan julle dan … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Ef. 4:1-6).

Die gesag van Jesus Christus word nie dikwels deur gelowiges betwyfel nie. Die unieke boodskap van die evangelie bring meeste gelowiges by die besef van hoe onmoontlik redding sou wees sonder Christus (Hand. 4:12).

            Tog is daar vandag “gelowiges” wat Hom Sy plek as Koning sou wou ontsê en andere wat Sy posisie as Hoof met Hom wil deel! Daar is tans “gelowiges” wat nie die goddelikheid van Christus aanvaar nie!

            ‘n Paar jaar gelede het die skrywer verneem van ‘n brief waarin ‘n jong man, na ‘n periode van studie aan ‘n bekende universiteit, ondermeer geskryf het: “Ek glo nie meer in die goddelikheid van Josua Ben Josef nie.” Hierdie is maar een van die baie voorbeelde van die verval wat ingetree het in die Liggaam waarvoor Christus gesterf het!

            Was hierdie Jesus wat ons aanbid slegs die seun van Josef van Nasaret? Was hy maar net nog ‘n mens net soos “Josua” van die Ou Testament? Indien nie, wat is die verskil?

            Jesus het Homself op verskillende maniere voorgestel: Aan die Samaritaanse vrou as “die Messias wat Christus genoem word” (Joh. 4:25-26), aan die Jode as “die Christus, die Seun van God” (Mark. 14:61-62), aan Paulus as “Jesus” (Hand. 9:5). “Hierdie Jesus” is deur Paulus aan die wêreld verkondig as die Christus (Hand. 17:3). Wie is “hierdie Jesus” wat Homself as die Seun van God beskou het?

            Van hierdie eniggebore Seun van God sê die Bybel:

I. “Alle dinge het deur Hom ontstaan en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3).

            Hierdie is ‘n duidelike aanduiding dat Jesus Christus ten minste een kwaliteit met God deel; Hy is ‘n Skepper. Alle dinge het deur Hom ontstaan.

            Hy het vlees geword (Joh. 1:14, Heb. 2:14), ter wille van ons sonde (Rom. 8:3). Voor die skepping reeds het Hy in ‘n ander vorm bestaan, ‘n verheerlikte vorm (Joh. 17:5). Hy was in die begin by God en Hy was God, (Joh. 1:1).

II. “Ek is die brood van die lewe” (Joh. 6:35), “… die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid” (Joh. 6:51).

            Elke Bybelse kommentaar verduidelik vir ons hoe onontbeerlik brood vir die normale daaglikse oorlewing was in die tyd van Christus. Net so is Jesus – die Brood van die Lewe – onontbeerlik vir oorlewing in die ewigheid.

III. “Ek is die lig van die wêreld … wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12).

            Christus het God se volle wil aan ons kom openbaar. Hy het die duisternis van onkunde en verdoemenis uit die weg geruim. Hy het lig (en verligting) verskaf aan elkeen wat op Hom vertrou. Solank as ons in hierdie lig wandel is ons gereinig van ons sondes (1 Joh. 1:5-7).

IV. ” … voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58).

            Daar is geen twyfel oor wat Jesus met hierdie woorde in gedagte het nie. Selfs die reaksie van die skare bewys duidelik dat hulle presies verstaan het wat Hy bedoel (V. 57-59).

            Jesus maak hier aanspraak op ‘n “Voor-bestaan”. Hy maak aanspraak om Ewig te wees. Die manier waarop Jesus Hom hier uitdruk, laat ons dink aan die Naam waaronder God Homself aan Moses openbaar het: “Ek is” (Ex. 3:14).

            As ons die oorspronklike taal ontleed, sê Jesus as’t ware: “Voordat Abraham was, is Ek ‘Ek Is’”. Jesus het hier sonder enige omhaal van woorde verduidelik wat Mattheus werklik bedoel het met “Emmanuel” (Mat. 1:23). Die Godheid het vlees geword. In die vlees was die Sy naam Jesus Christus.

V. “Ek is die deur” (Joh. 10:9). Johannes sê verder (14:6): “… niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”, (as ons hierdie twee skrifture bymekaar mag plaas).

            ‘n Deur dien twee doele – dit sluit in en beskerm wat binne is en sluit uit en beskerm teen dit wat buite is. Christus alleen is so ‘n Skeidsmuur en Beskermer tussen gelowiges en Satan. Om aan die binnekant te kom moet ons in Hom wees deur gehoorsaamheid.

            Daar word slegs een manier in die Bybel aan ons openbaar hoe om in Christus te kom. Sien Romeine 6:3-4; Galasiërs 3:26-27.

VI. “Ek is die Seun van God” (Joh. 10:36).

            Kom ons vergelyk vir ‘n oomblik die woorde: “… dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het” (Joh. 3:16) met; “Ek is die Seun van God” (Joh. 10:36).

            Jesus Christus is die enigste wat hierdie aanspraak met enige integriteit kon maak! Hy is die enigste Een wat aan die mens ewige lewe kan belowe; deur Sy lewe te gee, het Hy vir die mens ‘n metode bewerkstellig om die Ewige Lewe te bekom.

VII. “Ek is die opstanding en die lewe” (Joh. 11:25).

            Adam het aan die mens twee erfnisse nagelaat: liggaamlike dood, [aangesien hy uit die tuin gedryf is en nie meer toegang gehad het tot die boom van die lewe nie], asook Geestelike dood, aangesien hy deur sy verkeerde keuse sonde toegang gegee het tot hierdie wêreld.

            Christus het albei Adam se erfnisse kom kanselleer:

1. Geestelike dood, deur verlossing (of vergifnis) te bewerkstellig deur Sy bloed, (Ef. 1:7).

2. Liggaamlike dood, deur uit die dood op te staan en aan elkeen van ons opstanding uit die dood te belowe, (Joh. 5:28-29).

            In Adam sterf ons geestelik wanneer ons (net soos hy) in ongehoorsaamheid aan God se wil sondig. In Christus lewe ons geestelik wanneer ons sondes in gehoorsaamheid aan Hom vergewe word (Heb. 5:9).

            Ons sterf liggaamlik in Adam wanneer ons almal (net soos hy) eendag ons oë sal sluit. In Christus het ons almal die hoop op ‘n opstanding wanneer Hy eendag sal kom op die wolke (Joh. 5:28-29).

VIII. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6).

            Jesus beskryf Homself dikwels met konsepte wat met die Lewe te doen het: “lewende water” (Joh. 7:37-38), “die brood van die lewe” (Joh. 6:51) en “die lewe” (Joh. 11:25; 14:6). Hy is vir ons die bron van Ewige Lewe.

Christus se aansprake is té absoluut om af te water of te ignoreer. Selfs met hierdie onvolledige bespreking kan ons reeds die gevolgtrekking maak dat Jesus Christus geen gelyke het nie (Heb. 1:1-10).

            Kom ons aanvaar die hele Woord van God as waarheid (Joh. 17:17) en volg Christus na as die enigste Heer en Meester – die “… een Here” van Efesiërs 4:5!

            Hy alleen is waardig om ons Heer en Meester te wees!

            Kom ons huldig Hom as Koning en gehoorsaam Hom – die Hoof Van Sy Liggaam – gesamentlik, sonder huiwering, sonder teëspraak en sonder skeurings.

-Malan Gerber

Leave a Reply

%d bloggers like this: