“Ek vermaan julle dan … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Ef. 4:1-6).
Wanneer mens na die godsdienstige wêreld van vandag kyk, staan mens verbaas oor die magdom van verskillende gelowe wat tans bestaan.
Onder die baie uiteenlopende gelowe is daar slegs drie groepe wat aanspraak maak om die enigste ware God te aanbid. Hulle is die Moslems, die Jode en Christene.
Die Christen se “grondwet” (Die Nuwe Testament) bevat die Evangelie – die unieke boodskap van vergewing van sondes deur die bloed van Jesus Christus en ‘n belofte van ‘n ewige lewe in die Hiernamaals. (Sien Markus 16:15; Johannes 14:1-2).
In teenstelling met hierdie unieke boodskap van redding deur die bloed van Christus, vind ons selfs in die Bybel reeds die bestaan van meer as een geloof. Wanneer Paulus dus in Efesiërs 4:5 van “een geloof” praat, ontstaan daar onmiddellik ‘n mate van onsekerheid oor wat hierdie “een geloof” alles behels.
Hierdie onsekerheid word gou opgeklaar deur na enkele Bybelse feite te kyk. Ons vergelyk kortliks sommige van die verskillende gelowe in die Bybel met Paulus se stelling: “Een geloof”.
DIE HEIDENSE GELOWE
Die Heidense gelowe in die Bybelse era was bykans net so uiteenlopend as wat vandag die geval is.
Ons ken almal die verhaal van die goue kalf wat onder Aaron se toesig gemaak is, (Ex. 32). Ook Jerobeam het, nadat die koninkryke van Israel en Juda verdeel is, goue kalwers in Israel opgerig vir aanbidding. Dit is ‘n aanduiding watter groot invloed heidense gewoontes, wat deur die nasies rondom Israel gevolg is, op die volk van God gehad het, (1 Kon. 12:28).
Paulus het dit sy doel gemaak om die heidene te oortuig van die verskil tussen God, die Skepper, en die afgode van die Heidendom, (Hand. 17:22-31). Die tradisies van die Heidene was direk in teenstelling met die “… een geloof” wat Paulus verkondig het. Paulus se doel was juis om Heidene te bekeer tot Christus (Hand. 17:1-3; Hand. 18:5).
DIE AARTSVADERS
In die boek van Genesis vind ons dat God uiteenlopende instruksies aan verskillende mense gegee het. Dit wat God van Noag verwag het, het baie verskil van die bevele wat God aan Abraham gegee het. Die instruksies aan Noag het direk gelei tot die behoud van die mensheid. In die geval van Abraham het God gesorg vir die ontstaan van een nasie – die Israeliete – uit wie Jesus, die Christus, later gebore is.
Ons lewe vandag in ‘n tydperk waarin die beloftes wat aan hierdie mense gemaak is, reeds uitgevoer is. Die besondere instruksies wat God aan hulle gegee het, is dus nie meer op ons van toepassing nie.
Beginsels wat ons wel van hulle kan leer is: hul onwrikbare vertroue in God onder alle omstandighede, en tweedens – hul bereidwillige gehoorsaamheid aan God se bevele.
ISRAEL
Die volk van Israel was ‘n direkte vervulling van beloftes wat God aan Abraham gemaak het. God het belowe dat: Abraham ‘n groot nasie sal word; sy nageslag die land Kanaän sal besit; God hulle God sal wees en hulle as sy kinders sal bewaar en dat in Abraham se nageslag al die nasies van die aarde geseën sou word, (Gen 22:18).
Die uittog van die volk van Israel uit Egipte (Exodus) en die inname van die land Kanaän (die “Beloofde Land”) was albei vervulling van hierdie beloftes.
God het self op die berg Sinai neergedaal en met Israel ‘n verbond gesluit, (Eksodus 20). Hy het aan hulle daar die wet gegee om te onderhou as ‘n verbond tussen hulle en hul God. Sinai was tegnies die ontstaan punt van die volk van Israel. Dit is dáár waar hulle werklik ‘n nasie met ‘n eie “grondwet” en ‘n eie godsdiens geword het.
Israel het egter hierdie Sinaïtiese verbond verbreek en God se wet geminag. Daarom het God besluit om ‘n nuwe verbond te sluit met die nakomelinge van Abraham, (Jer. 31:31-34).
Toe die tyd ryp was het God sy eie Seun gestuur om as mens gebore te word, die wet te onderhou en daarna vir elke mens bevryding van die wet en van sonde te verkry deur Sy bloed, (Gal. 4:1-5).
Ten einde hierdie nuwe beloftes in werking te stel, moes die bepalings van die Ou Verbond, wat net op Israel van toepassing was, gekanselleer word. ‘n Nuwe verbond met ander beloftes was nodig – ‘n Nuwe Verbond wat betrekking sou hê op alle nasies en nie net op Israel nie, (Heb. 8 & 9, Heb 12:18-24). Dit is gedoen aan die kruis, deur die ou verbond aan die kruis te nael en ‘n Nuwe Verbond vir alle nasies in werking te stel, (Ef. 2:11-22).
Hoewel God op sulke wonderlike maniere met Israel gewerk het, is Judaïsme dus nie die “… een geloof” waarvan Paulus in Efesiërs 4:5 praat nie. Paulus, wie self ‘n Israeliet was, het dit deels sy lewenstaak gemaak om aan die Jode te bewys dat dit nie meer nodig was om die wet van Moses (die ou verbond) te onderhou nie, (Hand. 15; 2 Kor. 3; Gal. 3).
DIE NUWE TESTAMENT
Aan die kruis het ‘n nuwe verbond tot stand gekom – die Nuwe Testament – waarvan Christus die Middelaar was, (Heb. 9:15).
Die kroon op Abraham se geloof was die kruis van Golgota. Daar het die Saad van Abraham, Jesus Christus, onskuldig gesterf om versoening te doen vir die sondes van die hele aarde, (Gal. 3:13, 16). In Hom is alle nasies voorwaar geseënd aangesien bevryding van sonde aan almal beskikbaar gemaak is deur Sy bloed.
Al die voorafgaande inligting maak dit duidelik dat geloof in Christus as die Seun van God en Saligmaker die “… een geloof” is waarvan Paulus melding maak in Efesiërs 4:5. Dit is presies waarvan Paulus Heidene sowel as Jode probeer oortuig het, (Hand. 16:30; 20:21; 24:24; Gal. 3:26).
Hy het uitdruklik verwag dat almal – Jood en Heiden – tot die eenheid van hierdie geloof sou kom, (Ef. 4:13.)
GELOOF
Die Bybel gebruik die woord “Geloof” op twee maniere: In die eerste plek praat die Bybel van “geloof” as dit wat van die Christen verwag word om te glo. In hierdie geval is die woord “geloof” gelykstaande aan die woord “evangelie” (Fil. 1:27; Sien Mark. 16:15-16).
Tweedens word die woord “geloof” in die Bybel gebruik as ‘n plaasvervanger vir vertroue. Abraham het in God geglo deur te vertrou op Sy beloftes, (Rom. 4:3).
Die skrywer van Hebreërs beskryf hierdie persoonlike geloof in Hebreërs 11:1 as volg: “Die geloof is dan ‘n vaste vertroue op dinge wat ons hoop, ‘n bewys van dinge wat ons nie sien nie.” Vers 6 dui aan dat dit onmoontlik is om God te behaag sonder so ‘n onwankelbare vertroue op Hom.
Ons besef almal dat sommige mense in die Bybel ‘n groter geloof gehad het as andere. Daar bestaan dus nie net “een persoonlike vertroue” nie. Efesiërs 4:5 gebruik die term “… een geloof” om te verwys na die uniekheid van die evangelie – (dit wat God van ons verwag om te glo, Markus 1:15).
Daar kan geen ander geloof – of ander evangelie wees nie (Gal.-9). Dit is die krag van God tot redding vir almal wat op Hom vertrou, (Rom. 1:16).
-Malan Gerber