EEN GEES

“Ek vermaan julle dan … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” Efesiërs 4:1-6.

            Wanneer ons na die hedendaagse godsdienstige wêreld kyk, lyk dit asof die term “… een Gees” nie in die Bybel voorkom nie! Gelowiges van ons tyd glo nie aan net een Gees nie! Verskeie faktore gee aanleiding tot hierdie stelling:

Algemene verdeeldheid

            Die groot verdeeldheid wat in godsdienstige kringe bestaan, is reeds genoeg bewys hiervan. In die Bybel het die Heilige Gees op verskeie maniere die absolute noodsaaklikheid van eenheid onder gelowiges beklemtoon! Daarenteen het die godsdienstige gees wat vandag onder Christene vaardig is, nie baie simpatie met die Bybelse klem op eenheid nie.

            Die enigste gevolgtrekking wat ons hieroor kan maak, is: Daar is tans ‘n gees vaardig onder gelowiges wat nie met die Heilige Gees saamstem nie!

            Leser, besef u wat dit beteken? Daar is vandag ‘n gees werksaam onder gelowiges wat voorgee om die Heilige Gees van God te wees, maar wat in werklikheid besig is om die Heilige Gees te weerstaan!

            Hierdie gees het ‘n godsdienstige skyn, maar is besig om gelowiges verder uitmekaar te drywe! “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Kor. 11:14-15).

Wonders Van Die Leuen

            Paulus sê uitdruklik in 2 Thessalonicense 2:7-14: dat daar kragtige dade en tekens en wonders van die leuen sal plaasvind en mense sal mislei; dat diesulkes nie ‘n liefde vir waarheid sal hê nie; en dat God self aan sulkes die krag van die dwaling sal stuur om ‘n leuen te glo.

            Is dit wat besig is om onder sommige gelowiges te gebeur!?

            Daar bestaan reeds tekens van die leuen vandag! Mense in Suid-Afrika het dit ongeveer 35 jaar gelede duidelik op televisie gesien. ‘n Persoon wat aanspraak gemaak het om mense deur die krag van die Gees in Jesus se naam te genees, het jammerlik in die openbaar gefaal – ‘n stelling wat deur die Pinkster-gemeenskap self gemaak is! [‘n DVD-uittreksel van die genesings-aand is beskikbaar vir die wat belangstel.]

            In die Bybel is almal (almal!) wat vir gebed gebring is, deur die apostels genees, (Hand. 5:16). Selfs vyande van die apostels kon nie hul sukses ontken nie, (Hand. 4:16).

            Besef u dat die bogenoemde televisie-program ‘n duidelike bewys is van die bestaan van hedendaagse “wonders van die leuen”!? Besef u dat ‘n gees van dwaling tans onder gelowiges bestaan ten spyte van die Bybel se waarskuwings!?

Twee Dope

            Daagliks kom mens gelowiges teë wat, benewens water doop, ook aanspraak maak op die doop met die Heilige Gees. Die grootste ironie hiervan is dat hierdie aansprake uit verdeelde (“vyandige”) denominasies kom! In die Bybel het die Heilige Gees eenheid beveel. Die huidige “gees” waardeur mense “gedoop” word, het opgehou om ‘n voorstaander van eenheid te wees!

            In die Bybel was Christus die enigste Een wat gemagtig was om mense met die Heilige Gees te doop, (Mat. 3:11; Joh. 1:33; Joh. 16:7; Hand. 2:33). Hy het Sy apostels beveel om met water te doop, (Mat. 28:19; Hand. 10:48).

            In beide Handelinge 2 en 10 (die enigste twee gevalle van “Heilige Gees doop” wat opgeteken is in die Bybel) lees ons van twee verskillende dope: Heilige Gees doop en water doop. Nadat die profesieë van “Heilige Gees doop” in hierdie twee hoofstukke vervul is, lees ons in Efesiërs 4:5 dat daar net “… een doop” bestaan. Een van die twee dope wat in Handelinge 2 en 10 bestaan het, het verval! Watter een?

            Dit is maklik om te toets: Enigeen kan by enige groep gaan kyk of hy nog tonge soos van vuur uit die hemel sien neerdaal, hulself verdeel en op mense gaan sit! Dit gebeur nie meer nie! Aan die ander kant kan ons by enige van die groepe wat aanspraak maak op Heilige Gees doop, gaan kyk of hulle nog mense sien wat in water gedoop word. Dit gebeur nog steeds!

            Daar is “een doop”, (Ef. 4:5). Selfs Pinkster-mense word gereeld aan hierdie “een doop” (water doop) onderwerp. Hiermee erken selfs Pinkster-groepe – deur hul eie reaksie – dat “Heilige Gees doop” (‘n tweede doop) vandag nie meer kan bestaan nie!

Verdeeldheid onder Pinkster mense

            U moet asseblief nie hierdie as ‘n aanval op Pinkster-mense beskou nie; dit word bedoel as ‘n “aanval” op verdeeldheid! Ongelukkig moet Pinkster-gelowe in hierdie verhandeling oor die “Een Gees” uitgesonder word. Pinkstergelowiges maak daarop aanspraak om ‘n spesiale verhouding met die Heilige Gees (Die Gees van eenheid) te besit!

            Ten spyte van die Heilige Gees se bevele van eenheid, is ook die Pinkster-gemeenskap jammerlik verdeeld in weerwil van hul “spesiale verhouding” met die “Een Gees”!

Wonderwerke Nie Bedoel vir Eie Voordeel

            Vir diegene wat in opregtheid wonder oor die Heilige Gees en hul “armoede” aan genadegawes en wondertekens en hul gebrek aan genesing na sovele gebede en geloof; vir hulle wat reeds in moedeloosheid besluit het: “Ek is seker nie een van die uitverkorenes nie!” is daar hoop – Bybelse hoop.

            Eerstens; elke gelowige in die Bybel is nié van sy kwale genees nie! (2 Kor. 12:7-9, 1 Tim. 5:23, 2 Tim. 4:20).

            Tweedens; nie elke Christen in die Bybel kon siekes wonderbaarlik genees, of in tale spreek, of ander tale uitlê nie! (1 Kor. 12:7-11, 30). Tog het Paulus aan al hierdie Christene in dieselfde hoofstuk (v. 13) gesê: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.” Christene ontvang almal dieselfde Gees, al gebruik die Gees ons op verskillende maniere.

            Dit is nie werklik nodig om een of ander geestelike genadegawe te besit om gered te wees nie! (Rom. 1:11; Vergelyk hierdie gedeelte met Rom 8:9-15). Die Christene in Rome was vrygemaak van sonde, (Rom. 6:17-18). Hulle het reeds die Gees van God ontvang waardeur hulle tot God kon sê: “Abba Vader” (My Vader). (Sien Rom. 8:15-17).

            Tog wou Paulus aan hierdie mense – wedergebore kinders van God; mense reeds bevry van sondes – nog genadegawes (Charisma – dieselfde woord waar ons uitdrukking “Charismaties” vandaan kom) gaan meedeel, (Rom. 1:11). Paulus wou dus aan gereddenes geestelike genade-gawes gaan meedeel! Mens kan dus gered wees, sonder om geestelike genadegawes te besit!

            Hierdie is ‘n hoopvolle waarheid wat nie deur alle gelowiges verstaan word nie. Baie smeek nog steeds in hul gebede na een of ander genadegawe. Sommige smag so intens na uiterlike tekens dat hulle geestelik wegkwyn.

            Die werklikheid is: elke Christen woon steeds op ‘n vervloekte aarde waar siekte en dood heers. Elkeen van ons gaan sterf en begrawe word – net soos Christus. Saligmaking maak niemand vry van siekte en dood nie, (2 Kor. 12:7-9, Hand. 7:60, 12:2).

            Die wondertekens van die Bybel was bedoel om die geloofbaarheid van die evangelie aan ongelowiges te demonstreer – nie om gelowiges te vrywaar van lyding en dood nie! (Mark. 16:20, Heb. 2:1-4).

            Dit is belangrik vir gelowiges om die eenheid van die “Een Gees” en “die groei van die liggaam” te bevorder, (Ef. 4:16). Kom ons werk saam teen elke sisteem wat verdeeldheid veroorsaak en wat “strek tot versadiging van die vlees”, (Kol. 2:23).

-Malan Gerber

Leave a Reply

%d bloggers like this: