“Ek vermaan julle dan, … om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (Ef. 4:1-6).
In die godsdienstige wêreld van vandag bestaan daar een groot probleem. Wanneer daar oor enige godsdienstige onderwerp soos byvoorbeeld die doop geskryf word, word hierdie probleem nie eers aan die leser uitgewys nie. Daar word dus glad nie gesoek–of melding gemaak–van enige skriftuurlike oplossing nie.
WAT IS DIE PROBLEEM?
Die grootste enkele probleem in godsdienstige kringe–en dit geld nie net die doop nie–is die onchristelike verdeeldheid wat onder ons as gelowiges bestaan!
Ons eie land se eertydse leuse was: Ex Unitate Vires wat beteken “Uit Eenheid Sterkte” as ons dit letterlik vertaal—‘n leuse waaraan ons aanvanklik nooit uitvoering gegee het nie!. Die woord van God leer uitdruklik dat Hy van ons eensgesindheid verwag (1 Kor. 1:10). Die Bybel sê verder: Daar is “… een doop” (Ef. 4:5) en tog vind ons dat verskeie standpunte, elkeen verskillend van die ander, omtrent die doop (sowel as ander Bybelse onderwerpe) bestaan. Elkeen van hierdie standpunte word met ewe veel heftigheid verdedig deur verskillende groepe!
En dit is verstaanbaar. Niemand hou daarvan om te erken dat sy standpunt nog altyd in ‘n mate met die Bybel verskil het nie! Aan die ander kant moet ons egter erken dat daar geen manier is waarop al die verskillende sienswyses wat mense vandag aangaande die doop huldig, Bybels kan wees nie, veral aangesien die Bybel uitdruklik die stelling maak: “… een doop”!
Ons enigste standaard vir aanbidding en basis vir ons geloof is Gods woord–net die Bybel! En hierdie standaard verwag van ons eenheid sowel as eensgesindheid. Dit plaas ‘n verpligting op elkeen van ons om die Woord te ondersoek en onsself te vergewis van wat God van ons verwag – ook in soverre dit die doop aangaan, of ons nou die doop as belangrik beskou, al dan nie!
Die heel eerste vraag wat gewoonlik aandag verg is:
HOE MOET EK GEDOOP WORD?
Dit is kommerwekkend hoeveel besprekings omtrent die metode van doop onmiddellik na die Ou Testament verwys (waar die Christelike doop nooit gemeld word nie) sodra die metode van die doop ter sprake kom. Tog sal almal erken: Dit sou onwys wees om ‘n padkaart van Zimbabwe te raadpleeg wanneer ons vanaf Pretoria na Kaapstad wil reis! Net so sou dit onvanpas wees om al ons studies toe te spits op besnydenis wanneer ons meer besonderhede oor die doop wil bekom.
Die metode van doop word in etlike skrifte aangeroer–in verse wat direk op die doop betrekking het! Kom ons kyk saam na die volgende skrifture:
+ Mark. 1:9; “… is deur Johannes in die Jordaan gedoop”.
+ Joh. 3:23; “… omdat daar baie water was”.
+ Hand. 8:38-39; “… in die water afgeklim, … uit die water opgeklim”.
+ Rom. 6:4; “… saam met Hom begrawe deur die doop”.
+ Kol. 2:12; “… saam met Hom begrawe … ook saam met Hom opgewek”.
Daar is natuurlik meer inligting te bekom, maar hierdie is reeds genoeg om ‘n opsomming te maak omtrent dit wat die Bybel leer aangaande die metode van skriftuurlike doop: Die dopeling moet saam met die doper by baie water aankom, beide moet daarin afklim waarna die dopeling binne-in die water gedoop moet word deur ‘n aksie wat as ‘n begrafnis en ‘n opwekking beskryf kan word. Beide moet daarna uit die water opklim.
Die tweede belangrike vraag wat ‘n Bybelse antwoord verg is:
WIE MOET GEDOOP WORD?
Die antwoord op hierdie vraag is ook te vinde in skrifture wat direk van die doop melding maak. Die volgende skrifte het betrekking:
+ Mat. 28:19; “… maak dissipels … en doop hulle”.
+ Mark. 16:15-16; “… verkondig die evangelie … Hy wat glo en hom laat doop …”
+ Hand. 2:38; “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word …”
+ Hand. 8:12; “… toe hulle … geglo het … is hulle gedoop, manne sowel as vroue.”
+ Hand. 8:35-37; “Wat verhinder my om gedoop te word?” (Vrywillig).
Noudat ons duidelikheid en eensgesindheid het oor die metode van die “… een doop” (Ef. 4:5), is die opsomming van die kandidate vir Bybelse doop veel makliker: Enige man of vrou wat ‘n dissipel (of volgeling) van Christus wil wees, wat glo wat die evangelie leer, bereid is om hom/haarself te bekeer en vrywillig versoek om gedoop te word, is ‘n aanvaarbare kandidaat vir die “een doop” wat die Bybel aan ons voorhou.
Hierdie opsomming is weereens geneem uit skrifture wat direk melding maak van die doop! Enigeen wat onpartydig die Bybel studeer met die oog op eenheid kon dieselfde gevolgtrekkings gemaak het.
Soos die hofdienaar (Hand. 8:36) het selfs Jesus gewilligheid getoon by sy doop, ten spyte daarvan dat Johannes Hom teëgegaan het! Op dieselfde manier kan enigeen wat verstaan waaroor dit gaan, hom of haarself vandag vrywillig onderwerp aan die “… een doop” sodat daar groter eensgesindheid tussen Christene kan wees.
Die derde vraag wat noodwendig ontstaan deur die stelling “Een doop”, is:
HOEKOM MOET MENS GEDOOP WORD?
Soos by die ander vrae is dit maklik om onsself te beperk by skrifture wat uitdruklik melding maak van doop, en die rede vir doop behandel.
Die volgende verse voldoen hieraan:
+ Mat. 3:15; Christus het ons sy eie voorbeeld nagelaat.
+ Mat. 28:19; Christus het aan ons sy bevel gegee.
+ Gal. 3:26-27; Om in Christus te wees. (Sien Rom. 8:1).
+ Rom. 6:3-4; Om deel te hê aan Jesus se dood.
+ 1 Kor. 12:13; Om deel te wees van Christus se liggaam.
+ Hand. 2:38, 22:16: Om vergewing of afwassing van sondes te bekom.
+ Mark. 16:16, 1 Pet. 3:21; Omdat God die “een doop” deel gemaak het van Sy plan van redding.
Die waarheid kan homself nie weerspreek nie. Die Bybel is wáár, (Joh. 17:17; Ps. 119:160). Die Bybel verwag van ons almal eenheid en eensgesindheid, (1 Kor. 1:10). Hierdie eenheid sluit belangrike leerstellings soos geloof en doop in, (Ef. 4:4-6). Mense mag anders leer maar Christus maak melding van “… een doop” vir sy “… een liggaam”!
Met hierdie feite in gedagte, laat ons toe om ‘n finale opsomming te maak met inligting wat direk op doop betrekking het: Bybelse doop is die “begrafnis” (Kol. 2:12) of enkelvoudige indompeling van ‘n gelowige (Mark. 16:16), bekeerde (Hand. 2:38), man of vrou (Hand. 8:12), op eie versoek (Hand. 8:36), in baie water (Joh. 3:23), waarin hy/sy afgeklim het en weer opklim (Hand. 8:39), wat vir ons die vergewing (Hand. 2:38), of afwassing (Hand. 22:16) van ons sondes verseker, ons ‘n deel gee aan die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13), of ons IN Christus plaas (Gal. 3:27), in kontak bring met Sy dood (Rom. 6:4) en wat dus deel vorm van die saligheid in Christus, (Mark. 16:16, 1 Pet. 3:21).
-Malan Gerber